Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 25 OKTOBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons moet bekend maak dat die sleutels van twee radioamateurs in die afgelope tyd stil geraak het. Hulle is:
Johannes (Jan) Gijzen, ZR6ANB, op 27 September. Hy laat sy eggenote Elizabeth na.
Chrissy Williams, ZS6JX, op 8 Oktober. Sy was die eggenote van Dave, ZS6JW.
Ons innige meegevoel gaan aan die agtergeblewenes, ander familie en vriende van die afgestorwenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SUMBANDILASAT NOU MET TROTS AS SO-67 BEKEND

AMATEURRADIO BEïNDRUK KINDERS BY DIE HMO SE DAG VIR ONTWIKKELING VAN WETENSKAP

LIDMAATSKAP KRUIP STADIG TERUG NA VERLEDE JAAR SE HOë SYFER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SUMBANDILASAT NOU MET TROTS AS SO-67 BEKEND

Volgende op die eerste toetse van SumbandilaSat se amateurradioloonvrag, het AMSAT NA die benaming SO-67 daaraan toegeken. SO-67 is nognie vir algemene gebruik vrygestel nie aangesien verdere toetse deur die grondbeheerstasie met ’n aantal strategies geleë radioamateurs nog uitgevoer word.
SA AMSAT is trots daarop dat Suid-Afrika twee OSCAR-satelliete (OSCAR = Orbiting Satellite Carrying Amateur Radio) in die ruimte kon laat plaas. Die eerste een was SUNSAT OSCAR 35 (SO-35) wat die amateurgemeenskap wêreldwyd goed gedien het.
Verdere toetsing van SO-67 sal nog vir ’n tyd voortgaan. Nadat alle toetse voltooi is, en die SunSpacespan al die ander loonvragte bevredigend getoets het, sal ’n bedryfskedule gepubliseer word en sal die satelliet vir algemene gebruik vrygestel word.
Toetse het getoon dat die frekwensies van SO-67 effens laer as die gepubliseerde frekwensies is. Die beste resultate is op 145,875 MHz verkry. Soos met toetsing en instruksies voortgegaan word, is die beste raad om in die nabyheid van 145,880 MHz in te stem.
Waar moontlik sal die tye wanneer SO-67 vir toetsing aangeskakel word, op www.amsatsa.org.za gepubliseer word. Stuur rapporte aan saamsat@intekom.co.za.

OPDATERING VAN TUISKONSTRUKSIEKURSUS

Die tuiskonstruksiekursus wat op 21 November in Gauteng gehou gaan word, is vol bespreek en geen verdere inskrywings kan aanvaar word nie. Plekke vir die kursus in Kaapstad word vinnig opgeneem, maar daar is nog plek beskikbaar; dit geld ook vir Port Elizabeth en Durban. Besoek www.sarl.org.za vir verdere inligting en vir ’n lys van bevestigde registrasies. Om die bladsy vir die tuiskonstruksiekursus te bereik, klik op ‘activities’, kies dan RTA vir die koppeling.

AMATEURRADIO BEïNDRUK KINDERS BY DIE HMO SE DAG VIR ONTWIKKELING VAN WETENSKAP

Jakkalsjag en ander aktiwiteite wat verband hou met amateurradio het die kinders beïndruk tydens die dae vir die ontwikkeling van wetenskap by die Hermanus Magnetiese Observatorium. John en Lynn Willescroft het die verskeie aktiwiteite georganiseer. John rapporteer dat die 450 MHz lisensievrye senders en ontvangers vir die jakkalsjagte baie goed gewerk het, met geen probleme met weerkaatsing nie en die ontvangers was baie goed met die demonstrering van die eienskappe van die Yagi-antenna.
John het aan SARLNUUS gesê: “Ons het eerstens die gevoude dipool aanmekaargesit en die patroon teenoor ’n sender gewys. Daarna het ons elemente een vir een bygesit en gewys hoe die patroon verander. Die kinders het gesê dat hulle dit nog nooit voorheen so gesien werk het nie.
In ’n brief wat Sandile Malinga, die besturende direkteur van die HMO geskryf het staan: “Namens die Hermanus Magnetiese Observatorium en die Nasionale Navorsingstigting, spreek ek my innige dank en hartlike waardering uit aan u vir u besoek aan die HMO en die aanbieding van die jakkalsjagaktiwiteit. Die aktiwiteit is deur almal geniet en dit het baie bygedra om aan die jongelinge te toon dat wetenskap prettig kan wees. My dogter het dit baie geniet en tuis praat sy saans nog oor hoe genotvol die jag was. Dit is dinge soos hierdie wat ’n blywende en positiewe indruk in hierdie jong gedagtes laat en wetenskap vir ons toekoms bevorder”.
Baie dankie John en Lynn dat julle die vlag hoog laat wapper het.

LIDMAATSKAP KRUIP STADIG TERUG NA VERLEDE JAAR SE HOë SYFER

Die huidige opbetaalde ledetal van die SARL staan op 1 243, wat steeds laer is as wat dit aan die einde van Junie was, toe ledegeld betaal moes word. Indien u nognie u lidmaatskap hernu het nie, doen dit nou. Dit is nooit te laat om die nasionale liggaam vir amateurradio in Suid-Afrika te ondersteun nie. Jaarlikse ledegeld vir ’n gewone lid is slegs R340, wat, indien u daaroor nadink, minder as R1 per dag is, min genoeg om u stokperdjie, waarin u so baie belê het, te beskerm.
Indien u besonderhede benodig oor hoe om elektronies te betaal, bel Mariska Maandag by 011 675 2393 of stuur ’n e-pos aan admin@sarl.org.za.
Hierdie week verwelkom ons die volgende nuwe lede:
ZR6SRA, Bertrand Ford;
ZS1PN, Pieter Nel;
ZU5WLD, Wesley Du Preez;
ZR6MP, B.P. Meyer;
ZR6KHN, K.H Niewenhuis;
ZU1K, Renier de Jager;
ZU1V, Victoria de Jager;
ZU1PPG, Tiffany de Jager;
ZS6CO, L Jerman Luckertz;
ZR6KBS, Johannes H van der Westhuizen.
Ons wens hulle ’n gelukkige verbintenis met die SARL toe.

JOHN VORSTER TEGNOLOGIESE HOËRSKOOL 40 m-FOONKOMPETISIE

1. Doel. Dit is ’n pretaktiwiteit om kontakte tussen radioamateurs onder 26 jaar oud aan te moedig.
2. Datum en tyd: 31 Oktober 2009 van 08:00 tot 10:00 UTC [10:00 to 12:00 SAT].
3. Frekwensie: Dit is ’n foon alleen kompetisie in die 40 meterband [7,130 to 7,200 MHz].
4. Kategorieë:
a. Klas B, ZU-lisensiehouers;
b. Klas A, ZR- en ZS-lisensiehouers.
5. Krag:
a. Klas B = Maks 20 W;
b. Klas A = Maks 100 W.
6. Uitruiling: ‘n RS-verslag en die operateur se ouderdoms word uitgeruil.
7. Puntetelling:
QSO tussen twee stasies onder die ouderdom van 26 = 5 punte;
QSO tussen een stasie onder 26 en ’n stasie oor 26 = 3 punte;
QSO tussen twee stasies beide oor 26 = 1 punt;
QSO met ZS6JVT = 10 punte.
8. Logstate:
Logstate en opsommings moet voor 15 November 2009 per e-pos gestuur word aan telesat@cybersmart.co.za of per slakkepos aan JVT Jeugkompetisie, Tegnologiese Hoërskool John Vorster, Posbus 31 714, Totiusdal, 0134. Die ouderdom van die operateur moet in die opsomming aangetoon word.
9. Sertifikate:
Die insenders van die vyf hoogste tellings in elke klas sal ’n sertifikaat ontvang.
10. Prys: Daar sal ’n gelukkige trekking wees tussen al die insenders van logstate.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds baie laag is. 'n Sonvlek het in die Noordelike halfrond probeer vorm maar tans is daar geen sigbare sonvlekke nie.
20 en 40-m is die beste keuses vir DX met 10 m wat gedurende die middae wil-wil wakker word. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddae en aande gaan toestande na Europa goed wees. Gedurende die oggende is daar moontlike kanse om kontakte met Australië op 20 m te maak. Kontakte met Nieu-Zeeland gaan uitdagend wees. Daar is ook moontlikhede van 20 en 15 m kontakte met Brasilië gedurende die laat middae en vroeë aande. Gedurende die middae is daar goeie kanse vir 15 m kontakte met die VSA.
Dit is nou wat Hannes oor DX-toestande te sê gehad het. Luister nou wat tog in die afgelope week gebeur het: “Tot sy verbasing het Ean, ZS1PR, Dinsdagaand (20e) om 19:55 SAT vir John, ZS4S, in 'n ESB QSO op twintig meter met 'n Kanadese stasie gehoor. Toe die Kanadese stasie om 20:00 afteken roep Ean vir John en 'n kontak met rapporte van 55 in beide rigtings volg.
Toe John sy kubieke vierpool na Kaapstad draai styg die seinsterktes tot vêr oor S9 in beide rigtings. By tye was John se sein S9+30 by Ean”.
Later sluit Shane, ZS4TW, Henk ,ZS1ACD, en Dennis, ZS1AU, hulle by die QSO aan. Toe daar om 21:10 afgeteken word was seine tussen Kaapstad en Bloemfontein nog goed.
Ean rapporteer ook dat 20 meter nou byna elke aand in Kaapstad oop bly vir DX tot so 22:00 SAT.
Hannes sê nou verder dat plaaslike toestande gedurende die dae op 40 m goed gaan wees. 80 m behoort gedurende vroegoggende en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dae goeie resultate oor die langer afstande lewer.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

25 Oktober - Spesiale geleentheidstasie ZS3SKA, op die terrein vir die die Vierkant Kilometer Opstelling nog vandag op die lug;
26 Oktober – Lesing “Maak gebruik van virtuele wêrelde” Kaapstad, lesingteaterkompleks, Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie om 17:30;
31 Oktober - ZS6PTA se Megasnuffelmark by die Pretoria Motorklub in Silverton van 08:00 tot 11:00;
31 Oktober – HTS John Vorster se 40 m-Jeugkompetisie 08:00 tot 10:00;
21 November – Tuiskonstruksiekursus, Gauteng by die NARS.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, opgestel is.
Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003